
“O, die pyngedagte: my kind is dood!...
dit brand soos ‘n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
en ek gaan op my kruisweg vort.
Maar daar skiet aldeur ‘n pyn in my hart,
sò, dat my lewe se glans verdwyn:
Jou kind en dood met ‘n vreeslike dood!
en – ek gryp my bors van die pyn.
O, die pyn=gedagte: my kind is dood!...
(Totius)
Ons het hierdie gedig op skool behandel en nooit het ek gedink hoeveel keer ek aan hierdie woorde sal terugdink nie. Op 15 Julie 1995 is ons oudste seun, Pieter Hendrik Maré, dood nadat hy op 12 Julie in ‘n motorongeluk was. Hy gaan net vir ‘n krieketoefening skool toe en toe dit… Wat ‘n vreemde sameloop van omstandighede. Sy pa moet hul oplaai by die krieket, want dis ons rybeurt. Hy is bietjie vroeg en kom eers huis toe. Die krieket eindig bietjie vroeer en ons vriend is daar en hy besluit om sommer almal op te laai en huis toe te bring. Iemand klop aan ons voordeur en se daar was ‘n ongeluk op ons straat se hoek – vyf huise van ons af. Toe ons daar kom, is dit net mense en Pieter le eenkant.
Hy word met ‘n ambulans hospitaal toe vervoer. Selfs al is hy onmiddellik in die intensiewe afdeling opgeneem, het die erns van die situasie nog nie tot my deurgedring nie. Hy is mos in die hospitaal, daar is dokters wat hom sal reg maak. Drie dae later is hy dood as gevolg van bloeding op sy brein.
Hoekom?? Ek het nog altyd gedink alles in die lewe gebeur met ‘n doel. God weet waarom dinge moet gebeur. Maar wat die doel van my kind se dood is, weet ek nie. Ek wens daar was antwoorde op al die vrae. Ek verstaan niks. Ek is dan so verskriklik lief vir hom, ek sorg vir hom, hoekom moet hy doodgaan?
Dit is nou meer as 20 jaar later en die seer is nog PRESIES dieselfde. Dit voel of iets my hart vat en CRUSH. Die verlange na hom is nog net so groot. Die seer is absoluut onmoontlik om te beskryf. Mense wat praat van jou kind se dood verwerk, het geen idee nie. Verwerk is so ‘n “stupid” woord. Jy hou net aan lewe van dag tot dag. Jy leer net, met God se genade, hoe om met dit SAAM TE LEEF. God gee jou wat jy kan hanteer?? Nee, ek kan dit nie hanteer nie. Maar ek moet, want dit het dan gebeur.
Ek sukkel nog steeds om te weet hoekom my kind?? Hoekom enige kind, Here? Maar my geloof in God hou my staande. Ek weet dat ons eendag weer bymekaar sal wees. En dat God ons liefhet.

