
Die oggend van 13 April 2017 glo ek het God my alreeds begin voorberei vir wat kom, min het ek geweet...
Ek en my dogtertjie (Anri) het op die bed gelê vir haar oggend slapie. Skielik in die kant van my oog, sien ek vir Cassie (my seuntjie) by ons by die bed staan. En net soos hy kon besig om ons te terg, Anri skrik wakker en kyk in die selfde rigting as wat ek hom gesien het. Met ‘n ongemaklikheid in my, wat ek besef het maar hy is nie hier nie hy is saam sy pa, het ek my man gebel net om seker te maak alles is reg wat hy my toe gerusstel, hul is by die dorpslande (my man boer vir homself).
Anri en haar boetie verjaar amper ‘n maand uitmekaar uit, wat ons besluit het om vir hulle saam ‘n partytjie te hou. Die 18de April met Anri se 1ste verjaarsdag, het ons sommer so onbeplan vir haar partytjie gehou en gesing by ouma se huis. Die twee se partytjie sou ons die 29ste April gehou het.
Die aand van 18 April, voor hy by sy nuwe skool begin het , het hy sy pappa net na 9 kom haal om by hom te gaan slaap. Net so voor 7 uur die volgende oggend het hy met baie opwinding by my in gestap in die kombuis, baie opgewonde om by die nuwe skool te begin. Min het ek geweet dat op 19 April 2017 ons lewens vir altyd verander... So net na 12 uur die middag kry ek ‘n oproep van die skool af, ek moet asb skool toe kom iets het met Cassie gebeur. My bene word jelly ek kan skaars bestuur, ek bel toe my man en sê hy moet skool toe gaan hy’s nader as ek. Ek bel die skool weer h’le sê hulle is oppad na Dr Albertse (dr in die dorp).
Op pad na Cassie se skool toe hou ek stil op ‘n skerpdraai ek bel dadelik my man en sê Cassie is dood, maar nogsteeds weet ek nie wat het gebeur nie. Toe ek aflui, sien ek ‘n wit kar met sy noodligte aan verby my jaag ek weet toe sommer dit is Cassie in daardie kar. Ek ry toe agter hulle aan, by die dokter se spreekkamer sien ek toe net hoe haal hulle vir Cassie uit die kar uit pap lyfie, blou in sy gesiggie... is hy dood? vra ek, nee hy is nie antwoord die juffrou. Hy het verstik aan ‘n pennetjie van ‘n pennetjie bord.
Die wag by dr Albetse het soos ‘n ewigheid gevoel, ek het twee keer gevoel my lyf kan nie meer nie en word flou, my kind is weg... Anri moet maar net te vrede wees by die apteker. Ek het gebid, almal daar het gebid. Die paramedikus het na ‘n geruime tyd by die spreekkamer aangekom en kon die pennetjie uitkry maar hy kon nie Cassie se pols kry nie. Met baie hoop ongeveer 2 ure later is Cassie per ambulans hospitaal toe met sy pappa wat by hom was. In my eie gedagtes het ek ‘n warboel van emosies gehad, aan die eenkant het ek hoop gehad dat hy nog lewe en aan die ander kant het ek geweet hy is dood.
By die hospitaal wat die dokter aan diens regtig haar bes probeer het, 'n rukkie later uitgekom het en ons mee gedeel het hy is nie meer met ons nie. Die kalmte wat ek oor myself gehad het, was meer dat ek nie wou aanvaar het hy is dood nie, daarom wou ek nie aan hom vat nie. Met groot dankbaarheid vandag het my berader wat ook daar was die dag, my oorreed om aan hom te vat en by hom te lê en hom vas te hou. Ek moes hom groet. Dit was die groet wat ek nooit ooit gehoop het ek hoef te doen nie. Hy’s nog so klein nog net 4 jaar 11 maande 4 dae oud! My oudste, my hart se punt. Ek het nie geweet wat met hom gebeur het nie en ek het geweet hy’s dood op daardie skerp draai. Ek het die Juffrou gevra waar is hy oorlede en sy’t gesê hy’s daar oorlede (die laaste keer haar hand daar gedruk). Ek glo die Here het my voorberei met Cassie se dood die 13de April 2017. God is GROOT en GROTER as wat ons besef. Van daardie dag af het ons net aan God vasgehou, sonder God sal ons dit nie kan doen nie. Met Cassie se begrafnis wou ek alles net mooi en perfek hê! Dit sou die Saterdag, voor sy begrafnis die Woensdag, hulle partytjie gewees het. Ek het so opwindende gevoel binne my gehad, so vreemd gedink dit was oor die partyjie wat die Saterdag sou wees. Hoe meer ek daaraan gedink het, het ek besef dit is omdat ek weet hy’s veilig by Jesus.
24 Januarie 2018 1 uur die oggend het dit vreeslik gereën, ek word skielik wakker ek wil net na sy graf toe ry en hom toemaak met iets. Ek bid toe en vra vir die Here om my rustig te maak dat ek kan slaap. En in my droom , droom ek...my man, ek, Cassie en sy kissie is in ‘n klein bootjie op water. Wat Cassie (sy Gees, goudgeel kleur) sy kissie vat en in die water gooi met ‘n breë glimlag op sy gesig. Met ‘n kalmte oor my het ek besef Cassie is nie by sy graf op aarde nie maar gelukkig by Jesus.

