
My rooikopkind, my blouoogkind
My linkerhandkolwer en regterhandbouler
My rugbyskeidsregter, my losskakel
My raakvatter, my engelkind
Hoe gaan ek ooit sonder jou kan klaarkom?
Hoe gaan ek ooit deur die lewe kom sonder jou?
Nooit as te nimmer sal ek jou weer kan vashou
Nooit as te nimmer gaan ons weer jou mallighede en omgee kan aanskou
Ek verlang jou al so erg, ek raak mal
Aan jou dink ek deur die dag en deur die nag pal
Ek wonder of jy my kan hoor en my kan sien
Ek wil jou net verseker: Jy was my heel beste nommer tien
Al wat pa vir jou wil sê, my liefling:
Is dat pa vir jou oneindig lief was en jou lof altyd sal besing
Of dit nou was in die kanariegeel of die Namibiese blou
Pa was en is bitter , bitter trots op JOU
Vir my was jy die HEEL BESTE ref op aarde
Ek hoop die mense besef nou jou waarde
Vir my was jy net een groot plesier
My lewe is so pragtig deur jou versier
Dankie vir alles wat jy vir pa gedoen het hier op aarde
Jy was voorwaar 'n regte staatmaker en van GROOT, GROOT waarde
Alles wat jy op aarde gedoen het, het jy ordentlik gedoen
Maar nou is jy weer met ons Hemelse Pappa versoen
Pa het groot troos in een vers uit die Bybel gekry
En hiermee sal niemand ooit met my kan stry
Psalm 116:15.. "Vir die Here is die dood van Sy troue dienaars geen geringe saak nie"
Ek wens ek kon jou nog net eenkeer weer teen my vasdruk!
Tatta my baba. Rus sag my liefling
Pappa sal jou vir ewig en ewig onthou

