'n leemte ...

The Story of Lukas  & Hannelie Maree 

- from Windhoek, Namibia (in Arikaans) 

Om ‘n kind te verloor … nie ‘n storie maar ‘n leemte. Ek deel dit graag met julle. 

‘n storie kan nie gevul word, maar wel ‘n leemte … deur Jesus Christus. 

28 Des 2009 word aan ons ‘n pragtige dogtertjie geskenk, Renée.   Ons is al geseend met 5 pragtige kinders. Lukas, Leon, Ruben, Tanya en Ryno. Renée word op Ryno se verjaarsdag gebore en verskil hulle twee presies twee jaar..... lekker nou hou ons saam partytjie.   Min het ons geweet wat voorlê. 

Vanaf 9 Mei 2010 verander ons lewens hand omkeer.   Renée is 4 maande en sy is bietjie stil, moeg en voel nie te lekker, maar sonder ‘n glimlag sou jy haar nie sommer sien.   Haar magie is bietjie geswel en dit sit bietjie twyfel in my hart maar ons sal Maandag by die dokter uitkom. 

Maandag dokter toe en sy is nie seker nie, so daar word bloedtoetse gedoen, so nou net wag vir die uitslag.  Maandag aand 22h00 bel Pathcare vir Lukas om seker te maak dat die spesifieke persoon (Renée Maree) se geboorte datum reg is.   Dinsdag oggend bel die dokter om te sê ons moet asb inkom spreekkamer toe sy moet dringend met ons gesels.   Lukas vra dat sy asb met hom moet praat sodat hy my kan voorberei op wat kom.   Ek onthou hoe my man in die deur staan en sê: “Hannelie NOU MOET ONS DIE HERE VERTROU.” (ek het nie geweet die dokter het gebel nie), “Ja sê ek, ons moet hom altyd vertrou maar hoekom, wat is dit?   Ek besef iets is fout.” 

Renée het akute leukemia, KANKER!!!! 

Renée lê en slaap op die bed, knus toe gemaak onder die komberse, my kniee raak lam en ek gaan sit op die bed. “Kanker” hoe, wat beteken dit?”!!!!!!!!  

Ons kan net bid en ons sak saam op ons kniee om te bid sonder woorde.  Eerste keer wat ek leer dat mens kan bid sonder woorde. 

So begin ons pad dan, ek tel haar op, dit voel of sy enige oomblik in stukkies gaan breek.   By die dokter aangekom, probeer sy verduidelik, maar ek kan nie sê wat ek gehoor het daardie dag nie. 

Terug by die huis kry ons boeties en sussie bymekaar om te probeer verduidelik wat ons self nie wil begryp of verstaan.   Onseker kyk 5 paar ogies terug na ons en toe die vraag, gaan ons sussie dood gaan? 

Eerlik moes ons antwoord “Ons weet nie.”!!! 

Oppad Staats Hospitaal toe bid ons HERE help ons, stuur die regte mense oor ons pad asb. 

Die Here is getrou en stuur vir ons omgee mense om met Renée te werk. 

Dieselfde dag word daar beenmurg toetse op daai klein weerlose lyfie met nog bloed toetse gedoen.   So begin ons hospitaal pad twee nagte in Katutura en sewe weke in Sentraal, uitslae kom terug en word bevestig, haar tellings is baie hoog, dit is beslis leukemia in ‘n baie gevorderde stadium. 

Ons skuif oor na Sentraal Vloer 8 kamer no 9.   Vir die volgende 7 weke is dit die tuiste van my en Renée.  Lukas versorg die ander vyf by die huis, Lukas toe 10, Leon 8, Ruben 6, Tanya 5 en Ryno 2. 

By Sentraal ondersoek Dr. Kuit haar en sê hy kom nou terug en stap uit kop onderste-bo die gang af, daar gaan staan hy, draai bietjie rond en dan draai hy terug en kom staan voor ons: “Daar is nie baie hoop nie, sy is bitter klein, ek het dit nog nie gesien in so ‘n klein lyfie nie.   Sy is baie, baie siek, ons sal wel prober doen wat ons kan.” 

Mag ek hom weereens bedank, menslik moontlik het hy gedoen wat hy kon, meeste van alles - hy het omgegee. 

Vir die volgende sewe weke is dit dan deel van ons lewens ritme………. 

Die oppe en die affe, die beter en die slegter dae.   Pappa by die huis besig met die ander klompie en die alledaagse take van ‘n huishouding.   Elkeen met sy eie gedagtes.   My sussie en ma kom los my soms so bietjie af dat ek vir ‘n tydjie kan gaan deel hê daar in die “buite” wêreld saam my gesin …… nou in twee geskeur.   My vriendin se kerk vat elke aand vir Lukas en die kinders kos - vir sewe weke beplan hulle die etes vooruit en besluit na sewe weke sal hulle weer beplan.   Ek kry elke aand ‘n heerlike bord kos by my vriendin, spesiaal gebring hospitaal toe. 

Ek bly met Renée in die hospitaal, chemo, plaatjies.   Soms kan jy nie dink wat daar in die kleine liggaampie aangaan, want daar was altyd ‘n glimlag.   Elke tweede dag bloed toetse, nog beenmurg toetse, nog chemo …… toe haar hare begin uitval, toe sy nie meer wil drink nie, toe sy nie meer huil, veral toe sy nie meer glimlag nie, Here net U kan ‘n uitkoms gee, toe besef ek wat is kanker. 

Die middag van die 27ste word sy opgeneem in ICU, ek gaan in en staan en kyk hoe die kleine liggaampie vol pype en snytjies is, en dit om te probeer help waar dit kan. 

Diep kyk ek in die mooiste ogies van my geskenk van God, sy kyk terug met ‘n vrede onbeskryflik groot.   Ek sê nag en gaan terug kamer toe, nie seker of ek weer in die ogies sal kyk nie, maar ek bid en hoop dat dit weer sal gebeur. 

Onbewus van wat ek en Lukas op dieselfde tyd doen, kniel ons voor die Here met die gebed: “Here sy het genoeg gelei as dit tyd is om haar te vat kom haal haar asseblief.”  

Kwart oor twee gaan die kamer lig aan … dadelik is ek op met die woorde: “Moet ek gaan?”   Toe getrek is dit rondom my kind, jy weet wat kom, maar dit kan tog nie wees.   “Ons het alles probeer wat ons kon”!  Hoe leeg klink die woorde dan net nie. 

Dan die huis toe gaan, hoe bitterlik leeg is dit om sonder jou kind daar uit te stap en te weet jy kom nie weer terug om haar nou nou te sien nie. By die huis slaap almal nog rustig dit is half ses die oggend.  Ek maak boeties en sussie wakker, weer staan vyf paar ogies na my en staar - julle sussie kom nie huis toe!  Hoe troos jy vyf paar lyfies almal bo oor mekaar om naby jou te wees om die dood te probeer verstaan, die vrae ??? wanneer kan ons haar nou gaan haal? 

Vandag die 8 jaar merk.   Met al die herrinneringe nog vars asof dit gister was.   Daar is niks wat daai leegheid in jou hart kan beskryf.   Dankbaar is ons vir ons Hemelse Vader wat genesing bring oor die seer, oor die hoekoms en waaroms, Jesus Christus wat ons dra, wat ons leer, wat ons lei elke liewe dag. 

Wat het ons geleer, sjoe baie!!!! 

Hou vas aan Jesus, want jy val uitmekaar as jy laat glip. 

Mense rondom jou wat jy nie eers ken wat ‘n pad saam jou stap in Christus. 

Jy kan nie vir iemand sê ek weet hoe jy voel as jy nog nie ‘n kind verloor het nie. 

Jy kan nie vir iemand sê gelukkig het jy nog vyf of twee of ander kinders, hulle vul mekaar nie op. 

As jy vir enige iemand woord gee of ‘n boodskap van God af, maak seker jy HET die boodskap duidelik van God af gekry.   Hoekom ek so sê?   Jy doen skade deur te dink jy het God reg gehoor en dan gebeur iets anders.   Baie mense het uit die woord en van God af vir ons boodskappe gegee dat Renée gaan groot word en haar getuienis gaan lewer, gesond.   Na haar dood het niemand terug gekom om te sê wat God nou sê nie.   My boodskap: wees versigtig - dit is wat ONS geleer het. 

Is ons lewens reg?   Kan ons ‘n ewige lewe ingaan na ons dood?   Vertrou ons God dat Hy in beheer is, al verstaan ons nie altyd nie? 

Here mag U elke pappa, mamma en kinder hartjie wat ‘n kind, ‘n boetie of sussie verloor het sag toe vou in U hand, want deur U Genade ontvang ons vrede en geluk. 

Jesus liefde aan alle ouers wat moes totsiens sê 

Lukas & Hannelie Maree 

More Stories of Grief

through the eyes of...

Ronel de Beer - 13 November 2023

the story of jamiel

Ronel de Beer - 13 November 2023

gedig aan hermann jnr

Ronel de Beer - 13 November 2023

'n pyn-gedagte

Ronel de Beer - 13 November 2023

mal oor die buite lewe

Ronel de Beer - 13 November 2023

a broken heart

Ronel de Beer - 13 November 2023