
My engelse kwota is uitgeput vir hierdie jaar, daarom soveel vinniger en makliker in my moedertaal... vir nou.
Vandag is die laaste dag van nog 'n jaar. Vir die 2de keer 'n kersfees, 'n ou jaar en 'n nuwe jaar, sonder ons warrelwind-Lumé.
‘n Jaar wat soveel opgelewer het, en ‘n jaar wat verby gevlieg het, ‘n jaar van verlange, hartseer, vrae, wonder en bewonder. ‘n Jaar van foute maak, seer maak, regmaak, leegmaak en skoonmaak.. 'n Jaar van trane.. baie trane. Het ons genoeg gedoen, gebid, gepleit en teruggeploeg?
Daar was dae wat ek wou opgee en oorgee aan die greep wat die donker skaduwee van verdriet om my vou. Die donker greep wat my vashou met tye en wat my versmoor. Dis dalk meer dae as wat ek wil erken. Daar was ook dae wat ligter was, waar ek die genade gevoel en gesien het. Waar die donker nie die oorhand gekry het nie.
Baie van die donker dae was ook die grootste geskenke, waar ek die meeste geleer het, in verwonder gestaan het om te probeer verstaan hoe ongelooflik ons Skepper werk met 'n plan wat alle verstand te bowe gaan.
Daar het so baie gebeur vandat ons liefling haar Hemelse huis betree het. En vir ons het sy "uitgemis" op so baie. Ek wil haar so graag vertel. Maar het sy uitgemis? Of is sy nie intens deel of bewus van elke liewe tree wat ons gee in ons wedloop van die lewe - ons wedloop na die eindpunt - haar punt. Ek het al baie gewonder oor die teks in Hebreërs 12:1, “Therefore, since we are surrounded by such a great cloud of witnesses.... en nadat ek soveel gelees het oor die lewe hierna en case studies is ek oortuig daarvan dat daar dinge in die spirituele realm rondom ons gebeur wat een groot verwondering is - een groot misterie en dat God dinge openbaar vir Sy kinders aan beide kante van die lewe.