
Sewe is vir my 'n betekenisvolle nommer. In 'n geestelike konsep is dit 'n heilige nommer, God se nommer. Dit beteken voltooiing en perfeksie en verbind vrystelling, genesing en die vervulling van beloftes.
Daar is 7 dae in 'n week, 7 kontinente, 7 wonders van die wêreld en die reënboog het 7 kleure. In die Bybel verskyn die getal 7 meer as 700 keer. God het op die 7de dag gerus, daar is 7 Joodse feeste, en in Openbaring is daar 7 sterre, 7 trompette, 7 seëls, 7 engele en 7 kerke.
Die reënboog is vir my 'n persoonlike boodskap en teken. Die afgelope 7 jaar het die reënboog my getroos in oomblikke van wanhoop, en smeking. Ek hou vas aan God se grootheid, Sy belofte deur die reënboog en Sy teenwoordigheid in ons lewe.
Vandag, op hierdie 2de Julie wat die 7de keer herdenk word, voel ek vir die 1ste keer in beheer van my emosies. Die rustigheid en vrede wat ek voel, kan ek net toeskryf aan die Here wat die krag, geloof en hoop gee om te lewe in Sy genade en vreugde. Ek weet alles wat ons het, is genade, en alles wat ons besit, insluitend ons kinders, familie en vriende, is aan ons geleen. Ons moet hulle oppas, liefhê en in liefde onderrig en bystaan.
Lumé het my 'n mamma gemaak, omdat sy my eerste dogtertjie was. Sy het my geleer wat dit beteken om 'n mamma te wees. As gevolg van Lumé het ek in hierdie 7 jaar baie wyshede geleer, geskenke en lesse. Kom ons noem dit “7 jare van soete seer”
Jaar 1**: As gevolg van Lumé het ek geleer oor die werklikheid van die Hemel en die ewigheid. Dit is 'n fisiese plek, mooier en beter as wat ons kan indink. Ons moet die Hemel en die Hel ernstig opneem en gereed wees vir ons uiteinde. Ek hoop my kinders het hulle harte aan Jesus gegee en dat hulle weet ek as ouer is altyd gereed. Ek weet ek sal haar en my ouers weer sien. Die Hemel het vir my 'n “huis” geword. Ons het gou besef dat aardse besittings, geld en erkenning in die wereld se oe, dra min gewig as dit kom by ‘n ewigheids perspektief. Jy sal alles los, om jou kind terug te kry, maar as sy teruggekom het, sou ons lewe so verander het en sou sy so ‘n impak gehad het? My boodskap aan mense, is ja – jy moet leef en sorg vir jouself, maar moenie dat geld jou lewe oorheers nie, en moenie op mense trap omdat jy geld het nie. God bly in beheer.
**Jaar 2**: As gevolg van Lumé is die liefdadigheidsorganisasie, Legacy of Love gestig. Dit het begin as 'n blog, dan troosbokse, buddy benches, en uiteindelik "Grief Retreats". Geldinsamelings soos Golfdae, Le Dur Adventure, en Desert Dash ondersteun hierdie projekte. Dit het gegroei tot 'n volwaardige trust wat mense in hul verlies bystaan. Deur terug te gee en liefde te wys, vind ek elke keer 'n bietjie genesing. Lumé se liefde en passie vir die lewe sal vir altyd voortleef.

**Jaar 3**: Lumé se dood het my identiteit verander. Ek is nou 'n bedroefde mamma, lid van 'n klub waarvoor ek nie gevra het nie en waaruit ek nooit kan onttrek nie. Maar ek het die mooiste, liefdevolste siele leer ken, soortgelyke ouers wat oorleef en vegters is, wat die begrip "braaf" herdefinieer. Ons almal deel ‘n besondere band, en sonder dat jy mekaar ken, het jy onmiddellik aanklank en empatie met mekaar. Ek het geleer dat dit okay is om nie okay te wees nie, en mense se opinies het geen gewig in my lewe nie. Leer 'n ouer ken wat 'n kind verloor het; jy sal dankbaar wees dat jy dit gedoen het.
**Jaar 4**: As gevolg van Lumé lewe ons baie meer doelgerig, met meer empatie. Ons koester elke nuwe herinnering en kosbare oomblik. Ons druk en soen mekaar meer gereeld en langer. Omdat ons pyn ken, het ons 'n dieper liefde en aanvaarding van alle dinge en mense ontwikkel. Ons vergewe makliker en maak meer tyd vir mekaar. Ons is teenwoordig by die kinders se sport en aktiwiteite sover moontlik. Ons eet en bid saam. Die lewe is kort, maak elke oomblik tel.
**Jaar 5**: Ek sal altyd treur oor my kind, al verloop hoeveel tyd. Vakansies en groot vierings raak nooit makliker nie. Daar is geen aanbeweeg of kom oor dit nie. Selfs na 10, 15, of 25 jaar, sal die verlange en seer bly voortduur. Elke gemiste mylpaal—verjaarsdae, skoolafskeid, graduering, huwelike, en kleinkinders wat nooit gaan gebeur nie—het 'n blywende impak op ‘n generasie. Die rippel effek is verewig. Met sosiale media sien ons kinders se mylpale, maar daar is nooit nuwe foto's of herinneringe of nuwe toekennings vir ons Lumé nie. Ons het net ou foto's om haar lewe te eer en onthou.
**Jaar 6**: Ons het geleer om elke mylpaal en verjaarsdag van Lumé te vier. Sy bly ons kind, en die liefde vir haar bly groei. Dit is seer, maar help jou in jou genesing en om haar deel van ons gesin te hou. Jaar 5 tot 7 was moeiliker jare, met die gewig van die lewe wat ons uitdaag. Ek was oorweldig deur mense wat jou vertroue breek. Indirek geraak deur iemand wat ons lewe hel gemaak het en ons gesin se lewensbestaan beïnvloed het. Ek moes vergifnis op 'n ander vlak leer. Dit is moeilik, maar ek het geleer om my vertroue in God te plaas. God het toksiese deure bly toemaak, en ons fokus teruggebring na wat belangrik is. Vandag is die dankbaarheid vir nuwe beter geleenthede baie groot, en verstaan ons nou waardeur ons moes gaan. Ek dink persoonlik ons is nou gekwalifiseer om te motiveer en opinie te lig op elke vlak van die lewe hetsy huwelik, finansies, dood, verlies, drome, lewensverwagting, menseverhoudings, siekte, en trauma deur ongelukke.... ons het die paspoort en die uitkoms!!
**Jaar 7**: Met onmoontlike pyn kom ongelooflike krag. God gebruik dit vir sy glorie en koninkryk. Ons moet gewillig en gehoorsaam wees. Is dit maklik? Nee, glad nie. "Your pain can be your purpose." Ons moet 'n boodskap uitdra met ons seerkry. Ons het geskenke en voorregte waarvoor ons oneindig dankbaar is, wat nie baie mense in hul leeftyd beleef nie —alles as gevolg van Lumé. Ons lewe vanuit 'n dieper plek, met onuitspreeklike vreugde. Ons lewe is ryker, meer vibrant, en vol. Ons ruik rose en stop om asem te haal. Ons gee nie om oor kleinighede nie, maar omhels alles. Ons lewe met hoop op ewigheid en liefde wat geloof en hoop saambind. Ek is dankbaar om hier te wees en hierdie storie te kan vertel tot ons einde.
Om Lumé se mamma te wees, is die grootste geskenk wat ek ooit ontvang het.
Vandag wil ek afsluit met: “IT IS WELL WITH MY SOUL”