
Ek skrik vanoggend wakker, presies 07:15 – en die realiteit tref my soos ‘n regter hou wat onverwags van die kant af kom…. Die dag het aangebreek. Die dag waarvoor ek gewag het vir maande – gevrees het meer… Dis 19 maande. 19 maande sonder my warrelwind kind. Dis ook 19 maande en n paar dae wat Lumé en Charné verskil in ouderdom. Op 11 Februarie sal Charné presies so oud wees soos wat haar sussie Lumé was toe sy haar laaste asempie op hierdie aarde uitgeblaas het. Die ure staan nie stil nie, en Charné is al amper ouer as ousus.
Ek raak bewoë, wonder of sy ouer raak in die Hemel saam met tyd. Ek wonder eweskielik oor tyd in die ander realm, ek wonder oor klein bly, groot word, ek bly wonder… na al die boeke oor die maande, wonder ek eweskielik oor so baie. So baie vrae – wat ek weet ek seker nooit die antwoorde voor sal kry nie.
So rukkie later kry ek vir Charné in die kombuis, en ek hou vas haar van agter af. Vra, of ek haar maar ‘n stywe drukkie kan gee, want mamma verlang baie vir sussie. Sy raak stil en hou my vas. Ek neem elke oomblik in van hierdie omhelsing en verbeel my dis Lumé, maar verbreek die stilte met “Ai tog, jy is soveel langer as wat Lumé was” Sy glimlag en sak bietjie af sodat sy korter is – so of sy vir my daardie oomblik wil gun met haar hele hart. My hart pyn. Charné sê met trane in haar oë “Mamma sy is al so lank weg ek is bang ek vergeet haar..” Met trane wat vrylik loop sê ek: Mamma is ook bang, maar as ons elke dag oor haar praat sal ons haar nooit vergeet nie. Ons moet gereeld stories oor haar vertel” Ek besef dis hoekom so baie wie ‘n kind verloor oor hulle wil bly praat – want dis ‘n soort van terapie. Gedeeltelik help dit want ons is nie meer gegun om nuwe herinneringe te maak met hulle nie – ons het slegs “gisters”… die verlede. Omdat herinneringe die gewoonte het om te vervaag het ek opgetel dat sommige ouers wil oor hul geliefdes praat – nie so seer dat jy hul sal vergeet nie…. maar sodat hulle self nie sal nie. Ons klou aan detail omdat dit al is wat ons het, hul is skatte ver verby prys.
Ons reis met verlies is net die begin en dinge kan erger raak….. baie erger…. voor dit begin beter raak. Met die ingaan van die 2de jaar voel dit vir my baie keer of ek eerder sink. Ek sukkel met sekere gedagtes en gevolgtrekkings. Ons het verseker ver gekom in die genesings proses, maar ons treur nogsteeds die diepe verlies van Lumé. Nie ‘n dag gaan verby waar ons nie ‘n duisend keer aan haar dink nie. Nogtans, agter ons glimlagte en blymoedige gesindheid, is harte wat baie broos, pynlik is… steeds aan die gesond word.
Wanneer jy ‘n kind verloor – vat hulle so ‘n groot gedeelte van jouself saam met hulle Hemel toe. Jou siel het so ‘n oop spasie vir die herinneringe. Jy moet aanpas en ‘n nuwe normaal begin in jou lewe, want die oue is nie meer daar nie. Jy moet leer om te “cope” en lewe met dit elke dag.
Ek lees een dag dat ‘n groep navorsers by ‘n universiteit van Tel-Aviv het ‘n studie gedoen met 2000 ouers, oor ‘n 20 jaar periode. Die ouers wat kinders verloor het, het ‘n korter lewensverwagting as die wat nie kinders verloor het nie. So, hoekom lei ‘n kind se dood tot ‘n vroëe dood in ouers? Hulle het gevind dat die trauma wat gepaard gaan met verlies van ‘n kind, of dit geweld is en of ‘n siekte, lei tot geweldige fisiese en geestelike gesondheids probleme. Dit beinvloed jou kwaliteit van lewe. Moontlikhede van onopgeloste droefheid, post-traumatiese stresversteuring, verlies van jou doel in die lewe en die biologiese impak van erge verlengde stres.
As ek terugkyk na die 19 maande – dan maak bogenoemde baie sin. Ons het deur verskeie fases gegaan en al voel dit baie keer of ons geestelik gegroei het, het ons fisiese gesondheid geweldig ‘n knou gekry. Ek het vir ‘n tyd opgehou oefen – en my leefstyl het net verkeerd gehardloop. Jy is uit roetine uit, en jy rebeleer terselfdertyd oor die sin van die lewe. Ek was baie dae in ‘n 2-stryd met myself. Praat van hoe moeilik dit kan wees om met jouself saam te lewe!! Hierdie week gaan ek vir ‘n sport massering en die gevolgtrekking is dat my hele lyf – elke spier en senuwees in spasma is – letterlik. Ek vermoed al lank my spiere is seer en gewoonlik my skouers en rug, maar my hele lyf…? Dit is van bogenoemde simptome. Kopsere en soms ‘n intense moegheid van verlange en hartseer.
Hulle sê, Om te lewe met die verlies en dood van ‘n kind, verg die hardste werk wat jy ooit in jou lewe sal moet doen. Die gevoelens van onreg, dat hierdie dood nooit moes gebeur het nie…dit roof jou van jou vermoë om jou ouerskap rol uit te voer soos jy dit voorgestel het soos dit veronderstel was om te wees. Jy wissel heeltyd tussen hier en daar en emosies van alle vorme oorweldig jou. Jy moet kophou, anders verloor jy dit net.
Seker een van die moeilikse rolle vir ‘n ma en pa is om voort te gaan om ouer te wees vir die oorlewende kinders. Ons moet voortgaan om te funksioneer in die einste rol wat ons nou treur – ‘n groot uitdaging. Jy moet konstant rolle verander, van om vertroos te word na om die vertrooster te wees in tye waar jy regtig self nie die vermoë het nie.
Nog ‘n groot uitdaging is jou huwelik…. Alhoewel dit in die begin gevoel het die band tussen ons versterk, omdat jy weet tyd is kosbaar en waardeer mekaar – wees onvoorwaardelik lief en in die eerste paar maande is die skok en verlamde gevoel nog oorweldigend. Soos die tyd aanstap en die normale dinge van die lewe aangaan – so is dieselfde frustrasies maar daar wat in enige huwelik is, en wat altyd daar was. Nie alles verander handomkeer van elke maat nie en waar ek 2 keer gedink het voor ek praat, is baie van my reaksies en spanning wat ek nou ervaar ‘n resultaat van die seer wat ek het. Elkeen van ons is so diep betrokke in ons eie hartseer en soms ontevrede met die diepte of kwaliteit van die ander een se hartseer. Wanneer dit gekombineer word die woede, frustrasie, skuld en blaam wat baie keer rondom ‘n kind se dood intree, asook voeg nog die daaglikse take en verwagtinge van mekaar by = die slotsom is ‘n baie wispelturige huwelik. Ek verwag dalk te veel, en ontvang te min en omgekeerd. Ons het minder begin praat met mekaar, en elkeen het op sy eie aangegaan met sy groei proses of verlies proses. Dit is hier waar kommunikasie (deel jou gevoelens) so belangrik is en dat die een nie die ander een moet oordeel oor sy reaksie teenoor verlies nie. Om te aanvaar dat elkeen diep seer het is iets wat jy elke dag moet besef. Hierdie is ‘n voortgaande proses. Almal dink soms julle is hierdie perfekte paartjie wat die dood van hul kind so volwasse en gelowig hanteer, maar realiteit is ons is net mense met foute en faal elke dag in die proses om te leer en te groei hoe om hierdie ongewenste situasie te hanteer. Hier moet jy op jou knieë bly, en elke dag jou huwelik voor God neerlê, vergifnis vra en vertrou dat Hy ons hierdeur sal dra.
Die lewe is letterlik eenvoudig wreed. Saam met al die bogenoemde sorge, moet die lewe aangaan, werk moet voortgaan, geld moet inkom, en lewenskostes moet betaal word. Daar is eenvoudig geen genade vir ons nie…
Soos die liedtjie van Leon Ferreira dit so mooi stel: “Stop die wêreld, ek het seergekry, en alles ja alles draai om my, ek het ver genoeg saamgery, ek wil afklim en hier by U bly”
Ek voel ek het genoeg gehad van al die hartseer, pyn, swaarkry wat ons in hierdie wêreld ervaar en wil net ontvlug en by Jesus se voete gaan lê. Nog beter – hemel toe gaan wat ek elke dag begeer. Dan kom Matteus 11:28 op “ Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” Jesus nooi ons uit om by Sy voete te kom lê.
Vandat Lume 07:20 dood verklaar is daardie oggend van 2 Julie 2017 het my soeke begin na die doel en betekenis in haar dood. ‘n Begrip van hoe die dood inpas of integreer in die plan van die lewe is moeilik en dikwels onbereikbaar, veral as dit uit verhouding is. Ek het gesoek na my doel, ons doel as mens op hierdie aarde – gesoek na die ewigheids aspek. Ek het bly soek, na God, vir Jesus aan die kruis, die Heilige Gees probeer verstaan. Ek wou Sy stem duidelik hoor – het getrou in gebed gesmeek vir antwoorde van hoe, waar en hoekom. En soms na alles raak mens so moeg dat jy net oorgee.. oorgee aan God se beloftes in die Bybel. Totaal en al oorgee en vertrou. Vertrou dat Hy jou storie klaar geskryf het. Die Outeur is van jou boek – jou verhaal – wat in ooreenstemming met Sy plan vir hierdie wêreld is. Vertrou Hom vir die planne wat hy vir jou het en dat hierdie oorweldigende gebeurtenisse in my lewe ten goede mee werk vir my. Ek weet ons sien net gedeeltelik die prentjie, maar daar is meer! Daar is HOOP en daar is ‘n TOEKOMS. God sal die werk klaarmaak wat Hy in my begin het ( Filippense 1:6) Ek moet dit eenvoudig glo, en met my hele hart vertrou ek en weet ek elke dag God is goed en groot. Hy is groter as my vrae en my gebroke hart en daarom SAL ek vashou aan Hom. Ons lewe in ‘n wereld wat gevul is met verlies. Daar is geen makike antwoord nie.
Daar het soveel gebeur die afgelope maande, projekte is begin soos die buddy bench, dade van goedheid boksies, sportspanne vir liefdadigheid – alles in die naam van Legacy of Love wat ons begin het rondom Lumé en waarvoor haar nalatenskap staan. ‘n Hele paar baie slegte groot dae het gekom en gegaan… Intussen sterf mense en kinders links en regs en met elke situasie ruk dit my weer dat ons tyd beperk is, en dit is ons verantwoordelikheid dat ons kinders die lewende God dien, dat hulle in Sy lig moet lewe en glo in Jesus Christus Sy seun, wat vir ons gesterf het aan die kruis sodat elkeen wat hom dien die ewige lewe sal kry. Is dit nie die mooiste belofte in die Bybel wat ons diep in ons hart moet hou nie? Dis al wat saak maak. (Romeine 8:18 – Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.)
Mense is so onkundig rondom ons tyd hier op aarde, hul hou vas aan mag en geld en beheer hul eie toekoms planne. Daar is uitstel en afstel. Daar is koebaai, sien jou vanmiddag of vanaand. Daar is rusies met mekaar en draai weg sonder ‘n groet. Daar is woeste oggende voor skool waar ouers en kinders mekaar nie druk of soen nie – ons was selfwers daar… Wat as dit jou laaste sien is van jou geliefde? Hoe seker is jy – hul kom terug? Jy neem net aan – als is vanselfsprekend. In die tye wat ons lewe is niks vanselfsprekend nie. Ons het net vandag. Gister is verby, en more breek nog aan. More is onbekend. Maar vandag is wat jy het om te besef – kry jou huis in orde.
Die hemel het vir my meer as net ‘n werklikheid geword. En ek is frustreerd dat ek nie meer kan skryf nie, want ek het so baie om te deel, maar tyd is so beperk. Ek wil nie meer my tyd mors op dinge wat nie saak maak nie. Ek wil nie meer sinnelose en “petty” houdings en werksaamhede duld nie.
‘n Week terug het ek by Lumé se graffie gaan sit, en vir haar innig gemis. Ek het ‘n gesprek gehad of dit met haar of Jesus was weet ek nie. Maar ek haar vertel dat ek haar so verlang – die pyn word nie beter, dat ek haar fisiese aanraking en lyfie bitter mis, dat ek alles sal gee om dit weer te kan voel, haar te soen, haar lag te hoor…. Maar dat ek vir haar ewig dankbaar is dat sy my oë laat oopgaan het vir ‘n ware lewende God, wat besig is om kragtig te werk. Dankie dat sy die Hemel vir my aarde toe gebring het en my geleer het daarvan. Dankie dat sy my op die ewigheid laat fokus het en nie op die wêreldse houvas van wat ons dink belangrik is nie. Sy het die grootste geskenk vir ons kom gee deur haar dood. Genade vir ons is weggesteek in haar dood.

Die laaste paar maande het my gemoed wipplank gery met waar ek myself bevind, ek het getwyfel in my gebed, in myself. Hoor God my? Hoekom antwoord Hy nie. Hoekom kry ander mense tekens, en hoor Sy stem? Wat is fout met my? Is dit my geloof…. en so beweeg ek al verder van die waarheid. En so moet ek myself elke dag herinner: Daar is Vryheid in oorgee… Lê alles neer en laat gaan.. Let go and Let God!! Wanneer ek my oë op die storm hou, dan wonder ek, het Hy my lief, en hoor Hy my. Maar wanneer ek my oë verskuif na die kruis, dan weet ek Hy het altyd en sal altyd. God praat met ons deur Sy woord. Om Sy skrif te bestudeer kry ek baie antwoorde en kan ek stil word in die wete dat Hy het my hart, en Hy sal my nie los nie.
Die liedtjie van Casting Crowns – beskryf so mooi hoe ons moet oorgee en toelaat dat God jou vashou, veral wanneer antwoorde so ver is.
Just Be Held"
Hold it all together
Everybody needs you strong
But life hits you out of nowhere
And barely leaves you holding on
And when you're tired of fighting
Chained by your control
There's freedom in surrender
Lay it down and let it go
So when you're on your knees and answers seem so far away
You're not alone, stop holding on and just be held
Your world's not falling apart, it's falling into place
I'm on the throne, stop holding on and just be held
Just be held, just be held
If your eyes are on the storm
You'll wonder if I love you still
But if your eyes are on the cross
You'll know I always have and I always will
And not a tear is wasted
In time, you'll understand
I'm painting beauty with the ashes
Your life is in My hands
So when you're on your knees and answers seem so far away
You're not alone, stop holding on and just be held
Your worlds not falling apart, its falling into place
I'm on the throne, stop holding on and just be held
Just be held, just be held
Lift your hands, lift your eyes
In the storm is where you'll find Me
And where you are, I'll hold your heart
I'll hold your heart
Come to Me, find your rest
In the arms of the God who won't let go
So when you're on your knees and answers seem so far away
You're not alone, stop holding on and just be held
Your worlds not falling apart, its falling into place
I'm on the throne, stop holding on and just be held (stop holding on and just be held)
Just be held, just be held, just be held, just be held